Kom ervaar die stilte van die platteland!

Ons goed toegeruste selfsorg plaashuis en privaat kampeerterrein is ideaal vir reisende persone en groepe, of enige iemand wat sommer net van die geraas in die stad wil ontsnap.

Ons is ‘n dagreis (600km) vanaf Kaapstad en dus ‘n goeie oornagpunt vir diegene oppad na Namibïe, Kgalagadi of Botswana. Indien jy vooraf bespreek, waarborg ons jou alleenreg tot die hele opstal.

Oom Benna's is minder as 1 km vanaf die R27 tussen Kenhardt en Brandvlei met laasgenoemde slegs 15km suid. (sien Kontak Ons).

Inligting

  • Kan ek my hele familie bring?

    Enige tyd! Oom Benna's bied slaapplek vir tot 12 persone in die plaashuis. Dit het 3 slaapkamers, 2 storte (ensuite) en 'n derde badkamer vir as die nood druk. Daar is ook 2 enkelbeddens in die sitkamer asook ‘n stapelbed. Daar is nog ‘n stapelbed in een van die kamers.
    Die eenheid is ten volle toegerus vir selfsorg met 'n gasstoof, gasgeyser, gasyskas, elektriese ligte (son krag) en braai geriewe. Beddegoed word voorsien vir 12 persone.
    Vir die kampeerders is daar stortgeriewe, ‘n klein sitkamertjie en opwasplek vir die skottelgoed. Ons het ook ‘n ekstra vertrek met 3 stapelbeddens vir ‘n tweede opsie of as die weer sleg is. (Geen linne word voorsien vir hierdie opsie.)
  • Wat van swemklere?

    Bring gerus jou swemklere saam. Ons het ‘n sement plaasdam wat ons in die somer skoonmaak vir die doel.
  • Hoe ver is Pick & Pay?

    Brandvlei is die naaste dorpie (15 km). Hier is ‘n hele paar winkeltjies wat insluit ‘n bakkery, ‘n slaghuis, ‘n kafee met 24 uur brandstof, ‘n Landbou Koöperasie, ‘n drankwinkel en vele ander. Die Windpomp Restaurant in Brandvlei bedien heerlike kos.
    Braaipakke en hout is beskikbaar by Oom Benna’s op aanvraag teen 'n ekstra fooi, indien dit vooraf gereël is.
  • Wat doen mens hier?

    Bergfiets, piekniek in die droë rivierlope van die Sakrivier, sterre kyk, stap en voëlkyk. Kyk uit vir die Rooilewerik wat endemies is tot die area en die nomadiese Namakwalewerik. (Sien ons Voëlgids).
    Verneukpan is sowat 80km hiervandaan.