Oom Benna en Tannie Miemie "Oom Benna's"  is vernoem na ‘n vorige plaaseienaar (1950’s – 1998), Oom Benna van Niekerk. Hy was ‘n oud-Bolander en het die huis en stoor in die vyftigs gebou. Ons het die grond in 2005 oorgeneem, nadat sy kleinseun dit by hom geërf het. Die huis het leeg gestaan en ons het besluit om ‘n gastehuis te begin en op so manier die legende te laat voortleef.

Oom Benna was ‘n legende in die streek en was veral lief om handel te dryf met groente en vrugte wat hy per vragmotor of later per bakkie gaan haal het - enige plek waar dit verkrygbaar was. Hy het ook gesmous met enige iets anders waarop hy sy hande kon lê, soos voertuie, trekkers en selfs donkies en perde. Hy het gereeld na veilings en vendusies gery om te kyk of hy nie ‘n winskoop kon slaan om dit dan weer teen ‘n winsie te verkoop nie.

Hy was so sterk soos ‘n bees. Daar word vertel dat hy op ‘n keer in ‘n kroeg gegaan het (om te kyk of hy besigheid kon optel) toe een van die kroegvlieë begin om hom te treiter. Toe die ou sy oë uitvee, staan Oom Benna met sy voet op sy bors en hy lê plat op sy rug op die grond. Oom Benna het hom in die oë gekyk en met sy Bolandse aksent vir hom gesê: “Ek sê ek sê…” (sy kenmerkende sê-ding) “…ek briek die laaste bientjie in jou liggaam”, waarna hy omgedraai en uitgeloop het.

Nog ‘n staaltjie van Oom Benna, is die keer toe hy lemoene verkoop het. Hy het heeltyd gesê die lemoene is baie lekker en die voornemende koper het aangehou vra om te proe. Toe Oom Benna op die ou einde ingee en hom laat proe, trek die ou sy gesig verskriklik omdat dit so suur was. Oom Benna sê toe net dood luiters: “Ek sê ek sê…ek hou van hulle so surerig!”

Eendag nadat ons ‘n bietjie gesels het oor windpompe het iemand die opmerking gemaak dat ons nie sonder die goed kan klaarkom in die streek nie en as iets breek aan ‘n windpomp, moet dit so vinnig moontlik reggemaak word omdat die skaap moet water kry. Volgens die betrokke persoon is dit sommer gou gou. Oom Benna sê toe op sy kenmerkende droë manier: “Ja…mar hy’s ‘n bastard as hy omwaai!” By die opstal is die oorspronklike bord wat volgens wetgewing teen die voertuig moes vertoon word indien die persoon wou smous. Die skaal waarmee die druiwe ens. afgeweeg is, is ook nog te sien in die huis.

Vir Oom Benna was dit nooit te vroeg of te laat nie. As hy ‘n idee in sy kop gekry het, het hy dit dadelik begin doen. Telke male teen Tannie Miemie, sy vrou, se wil. So moes sy gereeld laataand iemand soek om die volgende oggend saam met hom te ry na ‘n veiling of sommer net om te gaan groente koop op Upington, omdat hy toe reeds al rondom 80 was.

Hy het altyd gesê hy wil kop eerste by sy huis uitgedra word as iemand hom vra wanneer hy aftree. Dit was toe so nadat hy in 1998 ‘n beroerte gehad het en later in die hospitaal oorlede is.